BAYER en boere werk saam om BT-mielies te bevorder.
2 November 2026, praat prof. Van den Berg oor die belangrikheid van toevlugsareas en die beskerming van BT-mielie tegnologie.

Die geveg teen stronkboorders duur voort: Weerstand, goeie rentmeesterskap, en BAYER se BT-mielies.
Elke mielieboer weet watter pes stronkboorders is en watter skade stronkboorders aan ’n oes kan doen.
FarmSpace het by ’n BAYER geleentheid, vroeg in November 2026, meer uitgevind oor die weerstand wat stronkboorders opbou teen BT-mielies, hoekom dit belangrik is dat boere saam teen dié pes veg, en Bayer se nuwe ontwikkelende BT-mielie tegnologie.
Hoe word stronkboorders weerstandig teen BT-mielies?
Prof. Johnnie van den Berg het tydens die geleentheid verduidelik dat die weerstandige stronkboorder is reeds tussen die nie-weerstandige stronkboorders. Die weerstandige stronkboorder het ‘n spesifieke geen wat hom weerstandig maak teen die BT-mielies. Dis dus nie dat die wurm ‘n immuniteit opbou teen die BT tegnologie en so weerstandig raak nie.

Hoekom is dit belangrik dat boere saam veg teen stronkboorders?
Stronkboorders is nie uniek tot ’n boer of ‘n omgewing nie. Daar is ongelukkig ook nie op die oomblik ‘n teenmiddel vir stronkboorders wat hulle vir altyd sal uitroei nie. Die ontwikkeling van die BT-mielie tegnologie gebeur ook nie oornag nie. Dis ‘n tydsame proses wat oor ‘n paar jaar ontwikkel word. Sodra nuwe weerstandige stronkboorders geïdentifiseer word, kan daar begin werk word aan nuwe BT-mielie tegnologie om die volgende generasie stronkboorders te beveg. Dus, hoe gouer die weerstandige
stronkboorder geïdentifiseer word, hoe gouer kan daar begin werk word aan die nuwe teenwerkende tegnologie.
Dit gaan egter nie net oor die identifisering van stronkboorder teenwoordigheid in jou mielieland nie. Die beskerming en die bevordering van die BT-mielie tegnologie is net so belangrik.
Boere se hulp is daarom nodig en belangrik vir beide die identifisering van ’n stronkboorder probleem sowel as die beskerming van die BT-mielie tegnologie.
Hoe kan boere bydra tot die bekamping van stronkboorders en die bevordering van BT-mielie tegnologie?
Tydens die media-geleentheid op 2 November 2026 is daar klem gelê op die noodsaaklikheid daarvan om toevlugareas saam met die BT-mielies te plant. Prof. Johnnie van den Berg het genoem dat boere byvoorbeeld 95% van hulle land met BT-mielies plant en dan ‘n 5% toevlugarea plant.
Verder, is daar ook tydens die geleentheid beklemtoon dat dit belangrik is vir boere en die landbougemeenskap om saam te werk om die BT-tegnologie te beskerm. Jy wil nie op ‘n plek kom waar daar net weerstandige stronkboorders is nie.
Goeie rentmeesterskap stop egter nie net by die plant van ‘n toevlugarea nie. Dit is belangrik om ook deur jou lande te gaan, dit te deursoek vir skade en indien jy ‘n probleem opmerk dit dan te rapporteer aan jou saad verteenwoordiger.
Hoekom is dit belangrik om toevlugareas saam met BT-mielies te plant.
Dis belangrik om ‘n toevlugarea te plant, omrede dit die opbou van weerstandigheid vertraag. Indien jy net die BT-mielies plant sonder ‘n toevlugarea sal die nie-weerstandige stronkboorder sterf. Die weerstandige stronkboorders sal egter oorbly, en in motte verander, met mekaar paar en dan sal nog weerstandige stronkboorders uitbroei.
Wanneer jy egter ‘n toevlugarea plant, sal daar van beide die nie-weerstandige en weerstandige stronkboorders oorleef. In plaas daarvan dat daar net weerstandige motte met mekaar paar, kan die oorlewende nie-weerstandige en weerstandige motte met mekaar paar, en sodoende word daar nie net weerstandige motte uitgebroei nie. Toevlugareas help dus om die proses van weerstandigheid te vertraag.
Volgens ‘n 2021 artikel van SA Graan: BT-Gewasse – toevlugte noodsaaklik om weerstand te voorkom, kan die risiko vir weerstand opbou teen die BT-tegnologie groter wees indien almal nie toevlugareas plant nie.

Verkry deur BAYER tydens Prof. Johnnie van den Berg se voorlegging: Can the South African maize industry stay ahead of resistant stemborers?
BAYER se nuwe ontwikkelende BT-mielie tegnologie
BAYER is reeds besig met ‘n nuwe BT-mielie tegnologie. Die nuwe tegnologie staan bekend as YieldGard4. Die ontwikkeling van BT-mielie tegnologie gebeur egter nie oornag nie. Hoewel, BAYER al ver in die ontwikkeling van YieldGard 4 is, is daar nog ‘n paar gedeeltes van die proses wat afgehandel moet word, voordat YieldGard4 kommersieel in Suid-Afrika beskikbaar gestel kan word. Daar word tans beoog dat dit teen 2030 in Suid-Afrika kommersieel beskikbaar sal wees.

Francois Wolvaardt, BAYER Seeds and Biotech Portfolio Manager. Foto verskaf deur BAYER, 2 November 2026.
Comments
No comments yet. Be the first!