Bontera wys hoe jy meer waarde uit kunsmis kry
Bontera wys hoe beter wortelsonebestuur, grondbiologie en voedingstofbenutting boere kan help om meer waarde uit bestaande kunsmis te ontlok.

Hoe kry mens meer waarde uit die insette waarvoor jy reeds betaal?
Wanneer kunsmis duurder raak, is die belangrikste vraag nie net hoeveel ’n boer kan sny nie. Die groter vraag is hoeveel van die kunsmis waarvoor jy reeds betaal het, uiteindelik deur die plant benut sal word.
Met hoër insetkoste raak doeltreffendheid al hoe belangriker. As ’n kilogram stikstof aansienlik meer kos as die vorige seisoen, moet elke kilogram so effektief moontlik benut word.
Dit begin in die grond en, meer spesifiek, in die wortelsone.
Hoekom beteken duurder kunsmis dat voedingstofdoeltreffendheid belangriker word?
Kunsmis wat toegedien word, beteken nie noodwendig dat alles daarvan deur die plant opgeneem gaan word nie.
Met baie reën kan voedingstowwe uitloog, terwyl droër toestande ander verliese kan veroorsaak. Selfs wanneer voeding in die grond beskikbaar is, moet die plant steeds ’n gesonde wortelstelsel hê wat dit kan bereik en benut.
Die doel behoort dus te wees om soveel moontlik waarde uit elke kilogram kunsmis te haal. Selfs ’n verbetering van 10% tot 15% in hoe effektief insette benut word, kan in ’n duur produksieseisoen ’n groot verskil maak.

Wat gebeur met kunsmis wat nie in die wortelsone bly nie?
Voeding wat buite die aktiewe wortelsone beweeg, is moeiliker vir die plant om te benut.
Dit maak die beskerming van die wortelsone belangrik. Die doel is om die omgewing waarin die plant se wortels ontwikkel so gunstig moontlik te maak en die voeding wat toegedien word daar beskikbaar te maak.
Bontera se Impact is daarop gemik om hierdie grond- en wortelsone-omgewing te ondersteun. Komponente in Impact help om voeding in die wortelsone te hou, terwyl die mikrobiese komponent die biologiese aktiwiteit rondom die plant ondersteun.
Die beginsel is eenvoudig: beskerm die inset waarvoor jy reeds betaal het en plaas die plant in ’n beter posisie om dit te gebruik.
Hoekom is wortelontwikkeling so belangrik vir die opname van voedingstowwe?
’n Plant kan toegang tot voeding hê, maar kan dit nie effektief opneem wanneer dit onder stres is of ’n swak wortelstelsel het nie. ’n Sterker en groter wortelstelsel stel die plant in staat om ’n groter gedeelte van die grond te benut.
Twee dinge word dus belangrik:
Hou die voeding in die wortelsone en help die plant om ’n sterker wortelstelsel te ontwikkel.
Dit raak veral belangrik wanneer moeiliker toestande later in die seisoen verwag word.
Die eerste ses tot agt weke van die seisoen bied ’n belangrike geleentheid om die gewas so sterk en gesond as moontlik te vestig. ’n Plant wat die moeiliker gedeelte van die seisoen sterker kan ingaan, kan stres langer hanteer voordat produksie ernstig beïnvloed word.

Kan biologiese produkte kunsmis vervang?
Biologiese produkte behoort nie bloot as ’n plaasvervanger vir kunsmis gesien te word nie.
Kunsmis bly nodig omdat moderne produksie baie meer van die grond vereis as wat natuurlik beskikbaar is. Wanneer ’n produsent byvoorbeeld mielie-opbrengste van 24 tot 25 ton per hektaar nastreef, word daar meer van die grond verwag in terme van voeding en produksiekapasiteit as in ’n natuurlike stelsel.
Die vraag is dus nie kunsmis óf biologie nie.
Die fokus is eerder hoe om bemesting en grondbiologie saam te bestuur sodat die plant die beskikbare hulpbronne beter kan benut.
Wat beteken die biologiese kapasiteit van grond?
Grond is nie net ’n medium waarin wortels staan nie. Dit is ’n ekosisteem wat organiese materiaal, bakterieë, swamme en ander organismes bevat.
Wanneer dieselfde gewas oor groot oppervlaktes verbou word en hoë opbrengste verwag word, word baie meer van hierdie grondstelsel gevra. Bontera se benadering is om by die basis van hierdie stelsel te begin.
Impact funksioneer as ’n katalisator wat die basis van die grond se biologiese stelsel ondersteun. Dit gaan nie daaroor om die hele grondstelsel onmiddellik te verander nie, maar om toestande te skep waaruit biologiese aktiwiteit verder kan ontwikkel.
Soos met ’n huis, begin die proses by die fondasie.
Is biologie ’n vinnige oplossing vir swak grond?
Biologie is nie ’n “silver bullet” wat die grond binne een of twee seisoene volledig gaan verander nie.
Grond wat oor baie jare verander het, gaan nie binne ’n kort tydperk herstel word deur bloot een biologiese produk toe te dien nie.
Dit verg ’n langertermynbenadering tot grondgesondheid, wortelontwikkeling, voedingstofbenutting en biologiese aktiwiteit. Biologiese produkte behoort dus deel te wees van ’n groter bestuursprogram en nie as ’n plaasvervanger vir goeie agronomiese bestuur gesien te word nie.
Hoe kan ’n klein Bontera-pakkie oor ’n groot oppervlakte gebruik word?
’n Algemene vraag is hoe ’n klein hoeveelheid produk genoeg kan wees om ’n groot oppervlakte te behandel. Bontera se formulering verwyder onnodige water en draermateriaal en konsentreer die aktiewe gedeelte van die produk. Die mikro-organismes word ook deur ’n enkapsuleringsproses beskerm.
’n 1 kg-pakkie Impact kan oor 20 hektaar gebruik word.
Die doel is dus nie om groot volumes vloeistof te vervoer nie, maar om die aktiewe organismes in ’n gekonsentreerde en beskermde vorm na die wortelsone te bring waar hulle moet funksioneer.

Hoekom is mikrobiese enkapsulering belangrik?
Mikro-organismes wat onder laboratoriumtoestande goed funksioneer, moet steeds in werklike grondtoestande kan oorleef en werk. In die grond moet hulle saam met ander organismes kompeteer en toestande hanteer wat baie anders is as ’n beheerde laboratoriumomgewing.
Bontera se enkapsuleringstegnologie is daarom gemik om verskillende mikro-organismes saam te formuleer en hulle te beskerm wanneer hulle in die grond ingebring word. Dit sluit verskillende bakter ieë en swamme in eerder as om op slegs een enkele organisme staat te maak.
Die doel is om die mikrobes nie net in die produk te hê nie, maar om hulle in ’n vorm by die wortelsone te kry waar hulle hul funksie kan verrig.
Waar lê die grootste geleentheid vir die boer?
’n Boer het beperkte beheer oor die prys van saad, kunsmis, chemie en die uiteindelike verkoopprys van die oes. Daar is egter meer beheer oor hoe die grond en beskikbare insette bestuur word.
Wanneer insetkoste hoog is, raak drie vrae daarom belangrik:
Hoe beskerm jy die voeding waarvoor jy reeds betaal het?
Hoe ontwikkel jy ’n wortelstelsel wat daardie voeding beter kan benut?
Hoe verbeter jy die biologiese omgewing waarin die plant moet groei?
Bontera se benadering plaas die fokus op hierdie drie areas — nie deur kunsmis uit die program te haal nie, maar deur die grond, wortelsone en biologie beter te bestuur sodat bestaande insette meer effektief benut kan word.


Comments
No comments yet. Be the first!